Boikot ná Spur-video lei tot groot verliese

Argieffoto

“Ons het niks om weg te steek nie en sal eerlik wees – die boikot het ons hard getref en baie onskuldige konsessiehouers is nou besig om swaar te kry.”

Mark Farrelly, hoofbedryfsbeampte van Spur, het Donderdag oop kaarte gespeel oor die impak van die boikot teen dié restaurantgroep. Die Daily Maverick het Woensdag berig die wegblyaksie teen Spur-restaurante het die maatskappy waarskynlik reeds miljoen rande gekos

Volgens Farrelly is restaurante se inkomste die swaarste getref in gebiede waar, soos hy dit stel, kiesers vir die voormalige Konserwatiewe Party sou stem.

Van die konsessiehouers sê hulle het reeds enigiets tussen 24% en 45% op hul maandelikse inkomste verloor sedert die restaurantgroep se reaksie nadat ʼn video van ʼn woedende woordewisseling tussen twee ouers op 19 Maart by die Texamo-Spur in Oakdene, in die suide van Johannesburg, die lig gesien het.

Spur het ná die voorval besluit om die vrou om verskoning te vra en die man is alle Spur-restaurante in die land belet. Die groep se optrede het landswyd verontwaardiging veroorsaak en duisende mense het sedert die voorval by ’n “Boikot Spur”-groep op Facebook aangesluit.

Farrelly reken die sukkelende ekonomie het verder bygedra tot Spur se afname in inkomste. “Die hele situasie het plaasgevind net toe [Pravin] Gordhan afgedank en ons ekonomie na rommelstatus afgegradeer is. Die kleinhandelbedryf het ʼn afname van 25% gesien wat minder voete in winkelsentrums beteken.

“Ek besef mense is kwaad, gefrustreerd en bekommerd oor hul toekoms. Hulle kan beslis nie met die regering hieroor praat nie en daarom het Spur nou die mikrokosmos geword vir die onderliggende woede wat in die land lê,” het Farrelly verduidelik.

“Dit het nie net ʼn rand-en-sent-impak nie, maar dit maak ons konsessiehouers en hul personeel emosioneel ook seer. Een van ons konsessiehouers se gades is in ʼn winkel aangevat en sleggesê omdat sy ʼn hemp met Spur se handelsmerk aangehad het. Daar word nare notas op die ruite van ons maatskappyvoertuie gelos. Ons het berigte gekry van kelners wat gevra word of die Spur-restaurant nou ewe skielik stil is en as hulle antwoord ‘ja’, dan sê die mense vir hulle ‘goed so’. Die venynigheid van die optrede is vir my eenvoudig verbysterend.

“Spur is reeds 50 jaar lank ʼn huishoudelike naam in Suid-Afrika; ek kan nie glo dat een voorval mense so laat optree nie. Dít terwyl baie van ons konsessiehouers en restaurant-eienaars soveel terugploeg in die gemeenskap deur byvoorbeeld skole en sportgeleenthede te borg. Dit is ʼn ongelooflike onaangename ervaring vir ons almal.”

Farrelly is egter vol vertroue dat die hele situasie mettertyd sal oorwaai. “Ek glo redelike mense sal uiteindelik terugkeer na ons restaurante. Hierdie hele voorval is erg uit verband geruk en vererger omdat mense die leuens op sosiale media glo.”

Farrelly het weereens bevestig Spur is in besit van die volledige beeldmateriaal van die voorval en wat tot dit aanleiding gegee het. “Enige iemand is welkom om na die beeldmateriaal te kom kyk, maar ons gaan dit nie versprei of aan die media gee nie, want dan stel ons albei kinders bloot, en ons wil juis opstaan vir die beskerming van kinderregte.

“Mense kan ons as ʼn korporatiewe groep haat, maar hulle moet asseblief nie ʼn restaurant in Phalaborwa of die Pretoriase Moot verantwoordelik hou vir ʼn voorval wat in die suide van Johannesburg gebeur het nie. Ons as restaurantgroep kan ook nie toelaat dat klante die reg in eie hande neem en self lyfstraf aan iemand anders se kind uitdeel nie.

Intussen het die politieke party Front Nasionaal grotendeels verantwoordelikheid aanvaar vir die boikot teen Spur. Volgens Daniël Lötter, woordvoerder vir die party, is hul oproep om die Spur te boikot reeds deur 305 346 mense op die party se Facebook-blad gelees en 2 260 keer gedeel.

“Ons mense het saamgestem en ʼn standpunt ingeneem. Ons sal die wegblyaksie ondersteun tot die uitvoerende hoof van die restaurantgroep, Pierre van Tonder, ʼn openbare verskoning aanbied vir sy onregverdige optrede en sy bedanking aankondig. Spur het rassisties en dubbelsinnig opgetree teenoor ʼn wit kliënt en die hoofbestuur het dit goedgekeur. Ons sal nie ʼn kompromie sluit nie; dit is ʼn beginselsaak,” het Lötter gesê.

Die restaurantgroep het einde April vir prof. Elmien du Plessis van die regsfakulteit aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, wat ook ʼn lid van die Menseregtekomitee van die NWU is, genader om ʼn paneel kenners saam te stel om ʼn indiepte-ondersoek te doen van die Texamo-Spur-voorval en hoe die groep dit gehanteer het.

Farrelly het bevestig die paneel sal voortgaan met die ondersoek. “Die paneel is onafhanklik en sal vir ons aanbevelings kan maak oor stappe wat gedoen kan word om tekortkomings in ons reaksie reg te stel en ook ons hantering van soortgelyke voorvalle in die toekoms te rig. Ons verwag om binne die volgende ses weke die eerste terugvoer van hulle te ontvang.”

You can leave a response, or trackback from your own site.

Leave a Reply

You must be logged in to post a comment.

Powered by WordPress